Met die uitbreiding van die beskawing in die Oostelike rigting vanaf Kaapstad, het die eerste pioniers baie struikelblokke in hul pad gevind, waaronder berge en riviere.
Die twee grootste hiervan, tot by Swellendam, was die Hottentots-Hollandberge en die Breederivier. Alhoewel daar wel driwwe deur die rivier was, was dit oorspoel gedurende vloede en soms vir dae kon geen kruisings plaasvind na die Oostelike kant.
Die noodsaaklikheid van handel en pos het tot innovasie gelei en in 1757 is die eerste pont oor die Breederivier in werking gestel. Dit was op die plaas Potjeskraal ongeveer 200m suid van die invloeiing van die Sonderend-rivier.
Die Boere aan die Oostekant was nou in staat om gedurende winter en hoër watervlakke met hul produkte by die enigste mark in die Kaap te kom.
Gedurende droëer somermaande is driwwe gebruik, waarvan die Hoereesdrif, ongeveer 200m noord van die invloeiing van die Sonderend-rivier die eerste was.
Robert Jacob Gordon het van hierdie pont gebruik gemaak. Volgens sy reisjoernaal van 16 Oktober 1777 het hy met sy wa en vier osse oorgevaar, die betaling 1 schelling per man en 1 per perd.
De Capelli het op sy reis van 1804 saam met Lichtenstein van hierdie plek ‘n tekening gemaak. Dit is egter nie in sy boek opgeneem nie, omdat die detail te fyn was om te druk.
Die pontman was Johannes Petrus Koen. Die ponthuis is waarskynlik weggespoel met die vloed van 1906.
Die eerste pont is gebou deur Gideon van Zyl, seun van die stamvader Willem van Zyl. Hy was destyds ‘n leninghouer van die plaas Potjeskraal. Op 7 April 1757 is Gideon vrygeskeld van betaling van enige pontgeld.
- Die tarief was: I schelling per persoon, 4 schelling per wa, en vir vee is akkoord aangegaan.
(8 schelling = 1 Riksdaaler = 1/6 (voor metrieke stelsel) = 1Sc)
- Die pontbelasting was 6 Caabse Gulden per jaar per plaas.
Die aanloop na die pont op die Oosbank het mettertyd gevaarlik geraak weens sandbanke wat gedurig deur die rivier verander is. (Nogsteeds!).
In 1811, na 54 jaar diens, is die pont 1 uur te perd (ongeveer 10 km) verder suid verskuif na die plaas Uitvlug. Destyds was dit die tweede plaas stroomaf vanaf Potjeskraal. Die ligging van die pont was naby die ‘ou drif’…of die pont bokant of onderkant die drif was kan nie vasgestel word nie.
Die ‘ou drif’ was onderkant die inloop van die Kluitjieskraal-rivier (aan die Rûens-kant). Die tweede pont het hier vir 10 jaar gebly, tot 1821.
Sterk strome as die rivier afkom, het genoodsaak dat ‘n ander, meer praktiese en beskutte plek gevind moes word. Miskien was die gat water waar die pont geloop het te klein, daarom dat die etfek van die stroom tydens swaar reëns te groot was. Met baie water “maak die rivier hier oop” aan die Rûens-kant en groot banke sand kan vandag nog daar gesien word.
Die ou huis van Uitvlug het as ponthuis gedien – waarvan vandag geen teken meer is nie. In die sewentiger jare was die fondamente nog sigbaar.
Louis Koen was hier die pontman. Sou hy ‘n seun van Johannes Petrus Koen gewees het?
Die derde pont word toe ingestel ‘n paar honderd meter bokant die huidige “Rooibrug'” (Ysterbrug). Dit is geleë baie naby aan die Oostelike grens van dieselfde plaas Uitvlug sowel as die plaas Weegschaal.
‘n Nuwe ponthuis word hier gebou van plat klip. Die murasie was in 1995 nog daar. ‘n Klein bakoondjie buite aan die kombuis het ‘n interessante dakkie van platklip gehad.
Hierdie pont is gebou deur Johan Kunz en die pontman was Mnr. Scott. Dit het later bekend gestaan as die “Upper Ferry”.
Die koste was 5500 Riksdaalers, Mnr Scott se salaris was 400 Riksdaalers per jaar.
In 1825, 4 jaar later, besluit Lord Charles Somerset om nog ‘n pont, later bekend as die “Lower Ferry”, heelwat laer af op die Breederivier in te stel. Die ligging was ongeveer halfpad tussen die “Upper Ferry” en Malagas.
Die redes aangevoer was om die binnelandse verkeer te verbeter. Dit sou ‘n kortpad moontlik maak vir die boere in die middel-Rûens aan die westekant van die Breederivier, na Port Beaufort, wat vanaf 1820 ‘n belangrike in- en uitvoerhawe geword het.
Die Rûens-boere het met wolskaap begin boer en meer graan begin saai vir verkoop, omdat dit nou vir hulle moontlik was om die produkte na Port Beaufort te neem in stede van die langer tog na die Kaap. Die westelike Rûens-boere moes wel nog altyd ‘n wye draai ry – eers oor die “Upper Ferry”, daarna deur Swellendam en Buffeljags voordat hulle suid-oos kon draai op nog ‘n lang pad na Port Beaufort. Die “Lower Ferry” sou die pad korter maak en sodoende die koste van vervoer verlaag. Die boere kon dus meer mededingend wees.
Swellendam het eers later die hoofsentrum van die Barry’s se handelsbedrywighede geword. Die groot store en winkel is gedurende 1834 in die dorp gebou.
Vir hierdie vierde pont (“Lower Ferry”) en gedurende 1825, kies Lord Charles Somerset toe ‘n plek op die plaas Crodinie (was gedurende 1995 bekend as Ouwerf).
Daar was (en dalk nog) ‘n ou drif waardeur die verkeer in die somer kon gaan. Aan die bokant van die drif was ‘n geskikte gat water vir die doel. Die eienaar van die plaas, H O Eksteen, was verantwoordelik vir die pont en sy salaris was 400 Rds. per jaar, in 1828 is dit gestel op £30 per jaar.
Die aanloop na die pont op die Wesbank was op ‘n n gedeelte styl en gevaarlik en Eksteen het ‘nm meer geskikte pad gemaak teen ‘n tenderprys van £22.
Hierdie “Lower Ferry” het in werking gebly tot 1838. ‘n Moontlike rede waarom dit gestop is, was dat die Barry’s toe reeds die groot store (Godown) en winkel op Swellendam gebou het en die boere kon dus hulle produkte in Swellendam verkoop in stede van Port Beaufort. Die “Lower Ferry” of Crodinie-pont was toe nie meer so noodsaaklik nie.
In 1828, na slegs 7 jaar, spoel die “Upper Ferry” weg vanaf sy werksplek op Uitvlug en dryf vas op die buurplaas Weegschaal. Die pont word gerepareer op Weegschaal met ʼn beraamde skadebedrag van £67 en in werking gestel.
Dit is toe die vyfde of Weegschaal-pont, genaamd “0u Pont”. Die aanloop na die pont op die Wesbank was baie styl en in 1830 word ‘n land ingrawing van ongeveer 40m gemaak deur ‘n sekere Mnr Theinissen vir ‘n tenderprys van £90. Dit is vandag nog daar te sien en dui die presiese plek van die pont aan.
In 1838 het James Backhouse se wa bly staan in die aanloop, ten spyte van die ingrawing. Sy 14 osse kon die wa nie wegtrek van die pont af nie en n 6 verdere osse moes gehuur word. Die 20 osse was voldoende om die wa op sy pad te sit.
Aan die toe sanderige Oosbank, was ‘n groot skeepsanker begrawe om die kabel aan vas te maak. Dit is nou nog te sien by die Drostdy-Museum. Aan die Wesbank was ‘n groot ring met lood in die kranse geanker, met die pontkabel aan die ring vas. Hierdie bol lood met sy staaf en ring is later deur Mnr Hampie Lourens uitgegrawe en het baie jare op sy erf gelê. Toe hy dit later vir die Drostdy-Museum wou skenk moes hy sien dat die lood gesteel was. Die staaf en ring is wel by die Museum.
In 1828 was JAC Neethling die pontman teen £30 per jaar. Gedurende die 4 maande in 1828 wat hulle aan die herstelwerk van die “Upper Ferry” gewerk het om hom weer in werking te stel op Weegschaal, het die mense vanaf die weste die “Lower Ferry” of Crodinie-pont gebruik na Swellendam reis. Die tolgaarder by die tolhek in die onderdorp (William Hazel) het gekla hy kry nou te min tolgeld, die inkomste het gedaal van £8 tot £3. Dit wou voorkom of die mense die dorp vanaf ‘n ander rigting (die Suide) binnegekom. Die baas padmaker kon weens die swaar verkeer nie meer die pad deur die dorp in orde hou nie. In 1815 is die bedrag van Rds. 490 ingekry, dis teen 1 schelling per wa, dus 3920 waens per jaar. ‘n Tolhek is beide kante van Swellendam geplaas. Die Oostelike tolhek was in die deel van die pad wat nou Swellengrebelstraat is, regoor die huidige Drostdystraat. Inwoners van die dorp en onmiddellike omgewing is vrygestel van tolgeld.
In 1856 is ‘n nuwe pont by die “Upper Ferry” in werking gestel. Hy het gebly tot die “Rooibrug” (Ysterbrug) in 1894 gebou is. Sy wrak het in die sewentiger jare nog daar langs die rivier aan die Ooskant gelê.
Teen 1856 was Port Beaufort al ‘h gevestigde in- en uitvoerhawe. Volgens die Overberg Outspan (E H Burrow) is daar op ‘n stadium 1 miljoen pond wol in een jaar uitgevoer. Die Bredasdorpse Rûens- en Strandveld het ook ontwikkel en wol en graan vir verkoop opgelewer begin oplewer.
Vir hierdie suidelike boere was dit nog altyd ‘n wye draai oor die “Lower Ferry” of Crodinie-pont
na Port Beaufort. Heel waarskynlik het hulle toe begin vra vir nog ‘n meer suidelike pont om ‘n kortpad na Port Beaufort moontlik te maak.
In Overberg Outspan lees ons nog oor Joseph Barry:
“From his extended back-room business, he tendered for a diversity of things at lhis time (1830): Repairs to the Drostdy. rations for the prisoners and the construction of a new pontoon for the Breede River”.
Hierdie nuwe pont was dus Malagas se eerste pont, alhoewel die sesde pont tot dusver oor die Breederivier.
Aangesien die Barry’s kans gesien het om die pont te kan bou moes dit ‘n houtpont gewees het, soos waarskynlik al die ander ponte gedurende daardie tydperk. Dit was ‘n klein pont met lae reëlings soos gesien kan word op die Thomas Bowler tekening van Malagas en ook op die tekening van die pont oor die Bergrivier in Burchell se boek. Die ligging van die pont was naby Olyfenhoutbosch. ‘n Staaltjie loop dat n boer sy wa oornag uitgespan het voor die pont. In die nag is die wa weggespoel en drie mense het verdrink.
Op die Hopley kaart van 1832 kom die Malagas-pont reeds voor asook die “Lower Ferry”. Die nuwe pont van 1830 moes dus die Malagas-pont wees. Teen 1834 (tussen 1830 en 1838) moes daar dus 3 ponte gelyktydig op die Breederivier gewees het, naamlik:
- Die “Upper Ferry” of Weegschaal-pont (1828 – 1894)
- Die “Lower Ferry” of Crodinie-pont (1825 – 1838)
- Die Malagas-pont (1830 – 1920)
Later jare het ‘n hout-en staalpont, “Burrows se pont”, die ou houtpont van Malagas vervang, Gedurende die vloed van 1906 is die kabel aan die Wesbank afgekap in ʼn poging om skade te verhoed en het die pont in ‘n halfsirkel afgedryf, nog geanker aan die kabel op die Oosbank. Na die water gesak het, was die pont aan die oostelike oewer gestrand, ‘n hele afstand van die water. Met 4 domkragte het Mnr. Burrows, na 6 maande se gesukkel die pont weer in die water gehad. Die proses het behels dat die pont by elke hoek met ‘n groot wa-domkrag ongeveer 1 meter opgelig moes word. Die pont is dan op die domkragte omgestoot in die rigting van die rivier. Dit het slegs n halwe meter nader aan die water gelê. Die proses is gedurig herhaal, vir n volle 6 maande lank.
Gedurende die Anglo-Boere-oorlog, tydens die inval wat die Boere onder Kmdt. Jan Theron in die Kaapkolonie gemaak het en tot so vêr as Heidelberg gestrek het, het die Engelse ‘n groot gat in die staalromp van die pont gekap. Dit was om te verhoed dat die Boere die Breederivier by Malagas met die pont oorsteek en was dus tot die einde van die oorlog buite werking. Na die oorlog is die gat weer toegemaak deur 2 stukke dik plank en goiingsakke aan weerskante met n dik bout na mekaar vas te trek. Die herstelplek het dig gebly tot die pont later onttrek is van diens.
Die alombekende handgedrewe pont van Malagas was die derde pont by Malagas en die laaste handgedrewe pont tot die bedryf daarvan deur owerhede as gevaarlik gestempel is en die pont ontmantel is. Sy staan tans op die Wesoewer in Malagas en wag om in n monument omskep te word.
Moksie Dunn was pontman.
Die vierde pont van Malagas is in werking gestel in 2020, is enjin-gedrewe en ontwerp om plaasimplemente en diere met gemak die Breederivier te laat kruis.
- Potjeskraal-pont = 1757 – 1811 (54 jaar)
- Uitvlug-pont No 1 = 1811 – 1821 (10 jaar)
- Uitvlug-pont No.2 (“Upper Ferry”) = 1821 – 1828 (7 jaar)
- Weegschaal-pont (“Upper Ferry”) = 1828 – 1894 (66 jaar)
- Crodinie-pont (“Lower Ferry”) = 1825 – 1838 (13 jaar)
- Malagas-pont 1 (“Burrows se pont”) = 1830 – 1935 (105 jaar geraamd)*
- Malagas pont 2 = 1935 – 2019 (84 years geraamd)*
- Malgas pont 3 (“Malgassie”) = 2020 – vandag
Datums kan nie bevestig word nie*
Article taken from Riverwise 1995 May/June Edition
